Waar in die wêreld wil jy bly?

Waar in die wêreld sou jy graag wil bly as jy kon? Dis die vraag wat vandag op WordPress se daaglikse skryfstimulus, oftewel “daily writing prompt” gevra word.

Dit het my weer aan die dink gesit oor waar mens dan nou kan bly waar mens gelukkig kan wees. Mense verskil hemelsbreed en daar sal nooit volle eenstemmigheid hieroor bereik kan word nie. As jy jou wel in ‘n ander land wil hervestig, moet jy maar jou opsies versigtig oorweeg. Ek het bietjie die voordele en nadele van verskeie bestemmings oorweeg.

Verenigde State van Amerika

In Februarie vanjaar het President Donald Trump van Amerika vlugtelingstatus aangebied aan Afrikaners wat daarvoor kwalifiseer en Amerika toe sou wou gaan om weg te kom van Suid-Afrika se raswette wat teen ons diskrimineer, die geweldsmisdaad waaronder plaasmoorde en huisroof in ons dorpe en stede wat dikwels op erge beserings of selfs moord uitloop. Verder is daar ook nog Julius Malema van die EFF wat sy haatlied Shoot the Boer dreunsang waaraan niks meer gedoen kan word nie omdat die Grondwethof dit nou wettig verklaar het.

Heelparty mense het aansoek gedoen vir vlugtelingstatus en sommiges het wel ook gekry. Dit sal nogal interessant wees om te sien hoe hierdie mense in Amerika aangepas het en hoeveel van hulle werksgeleenthede gekry het in die beroepe waarvoor hulle gekwalifiseer is. Verder sal dit ook interessant wees om te weet hoe doeltreffend die Amerikaanse regering se bystandsprogramme vir vlugtelinge is.

Daar is wel die belofte van veiligheid en ‘n ordelike samelewing in sommige gebiede mits jy weet waar om jouself te vestig. Sekere stede soos Chicago, San Fransisco, Detroit en in ‘n sekere mate selfs New York is glad nie optimaal vir bogenoemde eienskappe nie. Geweldsmisdaad is erg in Chicago en haweloosheid en dwelmmisbruik is weer ‘n groot probleem in San Fransisco wat op sy beurt ook tot verhoogde misdaad lei. Dinge lyk ook nie so goed in die nywerheidstede nie as gevolg van fabrieke wat gesluit het nadat groot vervaardigers hulle produksie uitgekontrakteer het na lande waar arbeidskostes heelwat laer is. Die skuld op studielenings verhinder ook jongmense om hulself na behore te kan vestig, te trou, kinders te hê en huise te koop soos wat hul ouers en grootouers destyds kon doen. Meeste van hulle is vasgevang in die lumbo van daaglikse bestaan met net genoeg om te oorleef.

Lewenskostes is ook hoog en voedsel en behuisingskostes is besig om die hoogte in te skiet. Jongmense kan nie meer bekostig om hulle eerste huise te koop nie en moet noodwendig maar ‘n plekkie huur of in groepshuise bly of in hulle ouerhuise as hulle gelukkig is.

Heelwat gewone Amerikaners kan nie meer bekostig om te gaan uiteet of selfs kitskosrestaurante te ondersteun nie omdat pryse van sulke kosse erg gestyg het. Veral tydens en na die Covid inperkings het dit ‘n erge probleem begin word.

Verder is daar ook gevaarlike vlakke van polarisering tussen meer behoudende Republikeine en liberaalgesinde Demokrate. Hierdie polarisering is behoorlik op die spits gedryf deur die opkoms van Donald Trump as Republikeinse president maar dit was al dekades lank deel van die Amerikaanse samelewing.

Suid_Afrika het ook sy misdaad en polarisering, maar gelukkig het ons nog die ondersteuning van familie, vriende, geliefdes en ‘n hele gemeenskap wat onder dieselfde beproewinge verkeer. In Amerika en ander oorseese lande is daar nie daardie ondersteuningstrukture nie.

Britanje en Europa

Baie van dieselfde faktore wat in Amerika genoem is, is ook in Britanje en Europa teenwoordig. Eiendomspryse en voedselpryse het daar ook drasties gestyg. Die ekonomie het oor die laaste paar jaar afgekoel en veral in Britanje het die arbeidsmark ook afgekoel en daar is al hoe minder fakatures beskikbaar. Werkgewers is al meer selektief oor wie hulle in diens neem. Verder is jy as buitelander ook uitgelewer aan enorme kompetisie nie net van die plaaslike inwoners nie, maar ook van miljoene ander buitelanders wat ook daar wil bly en tot die arbeidsmark wil toetree.

In sommige lande is daar ook ‘n groter swaai na behoudende politieke partye en die gesindheid teenoor imigrante is nie altyd so positief nie.

Shina

Nadat Shina se ekonomie en nywerheidsektor vanaf die 1970s begin opbloei het, het baie maatskappye van hulle vervaardiging soontoe verskuif. Baie Sjinese het in die proses die nodige vaardighede aangeleer en toe sommer self hulle eie nywerhede en selfs tegnologiese maatskappye begin. Baie patente van Westerse maatskappye is op twyfelagtige maniere bekom en mee gewoeker om uiteindelik hulle eie onafhanklike nywerhede en tegnologiese sektore te vestig wat nie meer so afhanklik van Westerse mfirmas is nie en wat self hulle eie navorsing, produkontwikkeling en vervaardiging kan behartig.

Baie Westerling het ook werksgeleenthede in Shina aangegryp en werk onder andere in hulle onderwyssektor waar hulle Engelse onderrig aan jong Sjinesies gee. Sommiges werk ook in die tegnologie-bedryf en is ook betrokke by internasionale mediaskakeling tussen Sjina en Westerse lande.

Maar toestande daar is ook nie so ideaal nie. Sjina word deur ‘n kommunistiese party geregeer en die gewone mense is glad nie in beheer van wie as hulle president verkies word nie. Die party neem alleenlik besluite oor wie as nasionale leiers en streeksleiers verkies word.

Daar is ook bitter min vryheid van spraak en die hoofstroommedia, sosiale media en die algemene politieke diskoers word streng gemonitor. Private telekommunikasie, veral dit wat oor internetgebasseerde boodskapdienste gestuur word asook gewone selfoonkommunikasie, word ook streng gemonitor en as jy in ‘n situasie is waar jy nie met die regering saamstem nie, kan daar behalwe vir tronkstraf en strafregtelike vervolging ook ander stappe teen jou geneem word. Dit sluit sosiale ontbondeling in waar jy van jou vriende of familie vervreem word deurdat vals gerugte oor jou versprei word. Daar word selfs van sogenaamde inbel luitone, oftewel “caller Tunes” gebruik gemaak om mense wat jou bel, te waarsku dat jy as onbetroubaar beskou word.

Verder was Sjina nog al die jare berug vir hulle vervolging teen Christene maar ook teen ander Oosterse godsdienste.

Verder is die kultuurverskille tussen veral Westerlinge en Sjinese oor die algemeen groot en kan mens maklik vereensaam daar as jy nie deel is van ‘n reeds gevestigde gemeenskap van buitelanders en veral Suid-Afrikaners nie.

Oos wes, tuis bes.

Suid-Afrika het ook baie uitdagings om te bowe te kom, maar ten minste is ons darem bekend met alles en ons het ons gemeenskappe, families en vriende wat ons kan onderskraag en bystaan. Die beste plek in die wêreld is daar waar jou hart is.

#Amerika #Britanje #Europa #imigrasie #kultuur #RSA #Sjina