Sentech to Showcase Digital Solutions at Africa Tech Festival in Cape Town – SAMDB News

SABC kry tweede aanmaning

Die SABC het hierdie week weereens ‘n ernstige waarskuwing vanaf sy seinverspreider Sentech gekry dat hulle nie meer kan bekostig om die skuld op die SABC se rekening te dra nie.

Tebogo Leshope, Sentech se hoofuitvoerende beampte, het in ‘n aanbieding voor die portefeuljekomitee vir kommunikasie en digitale tegnologie dit duidelik gestel dat die SABC se wanbetaling ‘n uiters dringende kwessie is wat nie uitgestel kan word totdat die nuwe SABC wet goedgekeur is of tot ‘n nuwe befondsingsmodel van die SABC uiteindelik die lig sien nie.

Die SABC word in hierdie aanbieding as ”n “key customer” beskryf en die feit dat hulle in gebreke bly om hulle uitstaande skuld te betaal is ‘n groot risiko vir hulle en ‘n ramp wat net plek soek om te gebeur omdat Sentech nie meer die nodige geldelike kapasiteit het om die SABC se uitstaande skuld self te kan dra nie.

Die maandelikse faktuur beloop sowat R67 miljoen, maar die SABC het in 2025 maandeliks net R51 miljoen betaal, ‘n maandelikse tekort van R16 miljoen. Dit hoop natuurlik nog op soos wat die maande verbygaan en daar elke keer ‘n betalingstekort is.

Die Dubbele Duwweltjie In Die Vlees

Sentech moet ook nog verder die kostes aangaan om suwel die analoogsenders en digitale senders van die SABC se televisiediens aan die gang te hou. Die digitale migrasie het reeds so vroeg as 2008 begin toe die eerste digitale senders aangeskakel is, maar het sedertdien teen ‘n slakkepas gevorder weens probleme met die verspreiding van digitale dekodeerders aan arm huishoudings wat daarvoor kwalifiseer asook hofsake deur onder andere ETV wat vrees dat die voortydige afskakeling van die analoogsenders hul kykers se toegang tot noodsaaklike inligting sal afsny. Omdat hulle ook van advertensies afhanklik is, kan hulle inkomste ook negatief geraak word.

Die kostes om sowel analoog en digitale senders aangeskakel te hou het tussen 2014 en 2024 sowat R1.23 miljard beloop.

Derde Keer Dalk Skeepsreg?

In ‘n vorige artikel het ek alreeds gevra wat sal gebeur as Sentech wel die SABC se senders moet afskakel as gevolg van hul uitstaande skuld.

As Sentech wel ‘n derde aanmaning oor hierdie wanbetaling moet rig voor die einde van vanjaar, gaan dit dalk regtig negatiewe nagevolge vir die SABC inhou? Slegs die tyd sal leer.

#digitaleMigrasie #SABC #Sentech #skuld #wanbetaling

As die SABC se stem stil word

Die voorsitster van die portefeuljekommitee oor kommunikasie, Khusela Diko, het op Maandag, 8 September ‘n ernstige waarskuwing uitgereik dat die SABC Se senders teen die einde van Dsember vanjaar deur hul diensverskaffer en seinverspreider Sentech afgeskakel kan word as gevolg van opgehoopte skuld. Sentech het gewaarsku dat hulle self nie meer kan bekostig om die SABC se sein te versprei sonder dat hulle nou begin plan maak om wel hulle te betaal nie. Hulle glo ook nie dat hulle met hulle bedrywighede kan voortgaan onder hierdie omstandighede na die einde van Desember nie.
https://mybroadband.co.za/news/broadcasting/610243-total-blackout-warning-for-the-sabc.html
Die SABC is die grootste verbruiker van Sentech se dienste en Sentech bloei tans R70 miljoen uit om die SABC se seinverspreidingskoste te subsidieer omdat hulle eenvoudig nie hulle diensfooie betaal nie.
Op 23 Julie vanjaar het die SABC se hoofuitvoerende beampte, Nomsa Chabeli, ook gewaarsku dat Senteck die senders kan afskakel as gevolg van uitstaande skuld.
https://mybroadband.co.za/news/broadcasting/603666-sabc-total-blackout-warning-2.html
Verder is daar ook nog die kostes om die SABC se analoog- en digitale televisiesenders tegelyktydig aan die gang te hou in plaas daarvan om heeltemal na die digitale platform toe oor te skakel. Die analoog senders word nog in vier provinsies aangehou terwyl vyf provinsies heeltemal oorgeskakel het na die digitale uitsendings van die SABC.
Hierdie kostes is ook hoofsaaklik deur Sentech gedra. In November 2024 het die departement van kommunikasie en digitale tegnologie bekend gemaak dat hierdie dubbele uitsendings sowat R1.23 miljard gekos het oor die laaste tien jaar.
https://mybroadband.co.za/news/broadcasting/571133-expensive-tv-migration-problem-in-south-africa.html
Dit alles as gevolg van die regering se uiters stadige en onbekwame proses wat gevolg is om die oorskakeling van analoog na digitale uitsendings moontlik te maak. Daar was eers die stryery oor watter digitale standaard gebruik sou word. Uiteindelik is toe besluit om die Europese DVBT 2 standaard te gebruik.
Toe kom die hele proses om digitale dekodeerders te versprei aan huishoudings wat nie kon bekostig om dit self te doen en dan oor te skakel na digitale uitsendings toe nie. Lede van die publiek moes forms invul waarin hulle inkomste verklaar word. Slegs laags besoldigde werkers kon kwalifiseer vir hierdie gratis dekodeerders. Daar is egter ook nog diegene in die laer middelklas wat ook nie kan bekostig om na die digitale uitsendings toe oor te skakel nie, maar hulle kwalifiseer nie vir die regering se dekodeerders nie en ongelukkig het privaat diensverskafeers en handelaars van sulke toerusting nie veel moeite gedoen om digitale dekodeerders te bemark wat wel in die ope mark aangekoop kon word nie. Ek moes self maar by aanlyn handelaars gaan soek vir sulke dekodeerders wat beskikbaar was.
Die SABC en ETV is albei bang dat hulle kykers kan verloor indien die analoog senders heeltemal afgeskakel sou word.
Terwyl die SABC, Sentech, ETV en selfs Multichoice stry oor die digitale migrasie en wie dalk die moontlike huishoudelike heffings moet invorder wat moontlik die verouderde televisielisensies moet vervang, neem stroomdienste al meer oor. Daar was selfs al oorwegings om belastings teen stroomdienste te hef om die SABC te red. Twee honde baklei oor ‘n been en die derde gaan daarmee heen.
Daar is egter groot kommer oor die gevolge van so ‘n sendersluiting vir SABC se televisie- en radio-uitsendings. Hoewel die kwaliteit van televisie-uitsendings se inhoud op die SABC se kanale drasties agteruit gegaan het, het radiodienste soos Radio Sonder Grense steeds probeer om goeie programme aan te bied ten spyte van knypende geldtekorte wat ook maar besnoeiings aan hulle programvervaardiging en personeelure veroorsaak het. Dan is daar ook nog die radiostasies wat ander taalgroepe en bevolkingsgroepe bedien. Hierdie dienste het nog altyd ‘n belangrike bydrae gelewer om hulle onderskeie gemeenskappe ingelig te hou, te vermaak en om die kultuur uit tebou.
Dink byvoorbeeld aan RSG se radioteater, inligtingsprogramme oor regsake, mediese aangeleenthede, besigheid, kinderopvoeding en sielkunde. Dan ook nog waardevolle hoorbeelde wat uitgesaai word oor interessante mense, onderwerpe of geskiedkundige gebeure.
Radio speel ‘n baie belangrike rol vir diegene wat bedags by die huis is en nie altyd kontak met ander mense het nie.
Wat gebeur met onafhanklike radiostasies wat ook van die infrastruktuur van Sentech afhanklik is? Ek dink veral aan stasies wat voorheen aan die ou SAUK behoort het maar wat na 1994 geprivatiseer is en aan opkomende mediamaatskappye verkoop is. Van hierdie stasies deel op sommige plekke steeds hulle torings met bestaande SABC senders. Gaan hierdie radiostasies dan ook afgeskakel word of gaan ulle betyds oorgeskakel word na hulle eie senders? Of kan Senteck wel individuele senders op een toring afskakel?
Dis voorwaar ‘n voorreg om in ‘n gebied te kan bly waar daar onafhanklike radiostasies beskikbaar is op FM. Dit sluit gemeenskapsradio en handelsradio in. Veral Afrikaanse gemeenskapsradio het vir my persoonlik groot waarde. Ongelukkig is daar groot dele van Suid-Afrika waar daar baie min of geen sulke dienste beskikbaar is nie. Dis meestal die SABC se stasies en die voormalige streeksradio van die ou SAUK wat beskikbaar is met miskien ‘n onafhanklike streeksradiostasie wat byvoorbeeld nie in Afrikaans beskikbaar is nie. Gelukkig kan mens darem na Afrikaanse gemeenskapsradio luister via die internet. Maar dit trek data en almal het nie noodwendig toegang tot onbeperkte internet nie. Verder het baie mense wat perfek sou kon baat by sulke uitsendings nie die tegniese vaardighede om dit te kan luister nie. Mens dink veral aan ouer persone.
Verder kan daar ook vrae gevra word oor die kwaliteit van programme wat moontlik verlore kan gaan indien die SABC se senders wel einde Desember gesluit gaan word. Sal onafhanklike stasies ook radioteater, inligtingsprogramme en hoorbeelde kan uitsaai soos wat die SABC se radiodienste gedoen het? Sal hulle ook die kultuurbehoeftes van hulle luisteraars verstaan en materiaal kan aanbied wat daarby aanpas? Dink maar aan RSG se spesiale programme vir Kersfees en Paasfees?
Afrikaanse gemeenskapsradio probeer wel om hierdie behoeftes te vervul. Hulle bied wel inligtingsprogramme aan oor gesondheid, landbou, gemeenskapsaktiwiteite en selfs kulturele insetsels soos spesialiteitsmusiekprogramme. Hierdie uitsaaiers het egter beperkte hulpbronne en dit sal byvoorbeeld moeilik vir hulle wees om dramas en hoorbeelde aan te bied. Daar is net nie die nodige kapitaal en personeel daarvoor nie.
Die minister van kommunikasie, MNR. Solly Malatsi, het wel aangedui sy departement het ‘n diensverskaffer aangestel om ‘n befondsingsmodel vir die SABC te ontwerp. Hoe lank gaan so ‘n proses neem? Gaan iemand dit wel regkry om ‘n haas uit die hoed te pluk tussen nou en Desember of gaan ons wel ‘n stil, donker tyd tegemoed in die nuwe jaar?

#Afrikaans #digitaleMigrasie #Radio #SABC #Sentech #TV #wanbestuur

Sentech releases “freevision Play” Streaming App – SAMDB News